Gespreksgids

AflaaiButtonsPDF

Inleiding

Hierdie Bybelstudies is saamgestel vanuit die 2007-verslag van die Taakspan Homoseksualiteit van die NG Kerk, die 2008-verslag van die Taakspan Homoseksualiteit van die VGK, en die 2015-verslag oor hermeneutiek van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake. Vanuit hierdie drie dokumente is ʼn duidelike trajek sigbaar oor die interpretasie van Bybeltekste, ook Bybeltekste wat oënskynlik met homoseksualiteit te make het, wat in hierdie Bybelstudies uiteengesit word.

Uiteraard is dit so dat daar lesers gaan wees wat hierdie teksgedeeltes anders verstaan en anders uitlê. Die doel van hierdie Bybelstudies is júis nie om Bybeltekste in ʼn finale interpretasie te giet nie, maar om – vanuit die verslae van taakspanne wat oor baie jare heen hieraan gewerk het – teologiese roetes te karteer wat sou kon help met die gesprek oor selfdegeslagverhoudings binne gemeentes.

Die bydrae wat hierdie Bybelstudies maak, behoort egter as ʼn vertrekpunt verstaan te word, en nie as ʼn eindbestemming nie, aangesien gereformeerde mense die Bybel nie stuk vir stuk, vers vir vers of woord vir woord interpreteer nie, maar binne die geheel van die Bybelse korpus.

Willie Jonker sou sê gereformeerde gelowiges verstaan die Bybel as ʼn boek wat deur mense in mensetaal geskryf is, en dat God Godself binne die weliswaar beperkte taal en ervarings van mense openbaar – ook in die Bybel.

Dit beteken wanneer die sogenaamde sewe tekste oor homoseksualiteit gelees word, dit nie in afsondering van ander belydenisse in die Bybel oor God en hoe God oor mense dink gelees mag of kan word nie.

Geloof is immers altyd op soek na verstaan, sou die kerkvader Anselmus sê. Daarom is die voorlopige antwoorde wat ons op hedendaagse vrae gee – soos hoe ons oor selfdegeslagverhoudings behoort te dink – áltyd ondergeskik aan die belydenis dat God ons verstand en taal en ervarings te bowe gaan.

Met dit alles in gedagte word hierdie Bybelstudies aangebied vanuit die oortuiging – wat diep ingebed is in hoe gereformeerde kerke die Bybel hanteer – dat Jesus Christus die sentrum is van waaruit die geheel (sowel as spesifieke gedeeltes) van die Bybel geïnterpreteer moet word. Etiese beslissings moet telkens deur die bril van hierdie belydenis gestalte kry, juis omdat ons bely dat kennis van God se wil in Christus ontsluit word. Derhalwe staan die persoon en werk, die woorde en optrede van Jesus Christus sentraal tot die kerk se gesprek oor selfdegeslagverhoudings.

Drie vrae hoort by hierdie gesprek en kan telkens oor die betrokke teksgedeelte gevra word:

  1. Hoe maak die teksgedeelte sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  2. Wat is die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  3. Wat bely of openbaar die teksgedeelte oor God? (sakramentele lees)

Hierdie vrae, of verskillende maniere om Bybeltekste te benader, verg egter dat die vreemdheid van die verhale, ervarings en taal wat in die Bybel gebruik word voortdurend in gedagte gehou sal word. Daarom is ʼn letterlike lees van die Bybeltekste nie dieselfde as ʼn literêre lees nie. Ons moet in die verskillende maniere waarop ons die Bybel lees – literêr, histories en sakramenteel – met die vreemdheid van die teks rekening hou.

Dit is veral duidelik wanneer ons die begrippe “homoseksueel”, “homoseksualiteit” en “gay” gebruik, want hierdie begrippe kom gewoon nie voor in die oorspronklike tale van die Bybel nie. Dit is alleenlik met ʼn diep bewustheid van die vreemdheid van die Bybel dat ons oor die sewe tekste kan nadink.

Opgestel deur die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake,

Wes-en-Suid-Kaapland
Oktober 2015

Riglyne vir kleingroepe, selgroepe of Bybelstudiegroepe

ʼn Groep sou die volgende ritme kon gebruik.

  1. Gebed: Vra God om self deur die Woord ons Leermeester te wees.
  2. Eerste lees: Laat iemand die teksgedeelte hardop voorlees.
  3. Oordenking: Laat iemand die verstaansriglyne vir die gedeelte voorlees.
  4. Tweede lees: Gee kans dat elkeen die teksgedeelte weer lees met die riglyne in gedagte.
  5. Eerste reaksie: Laat die groep nadink en praat oor die drie vrae wat ons altyd vir enige teks moet vra.
  6. Verdere gesprek: As daar nog tyd oor is, kan die groep nou nog meer spesifiek gesels oor watter implikasies die teks vir selfdegeslagverhoudings het.
  7. Gebed: Gee kans dat mense in die groep of elkeen afsonderlik in stilte met gebed afsluit.