Christelike Geloof en Wetenskap

AflaaiButtonsPDF AflaaiButtonsWord

1) ONS CHRISTELIKE GELOOF

ONS

Die “Ons” is ʼn persoonlike aanduiding. Dit gaan duidelik hier nie om ʼn algemene beskouing of oortuiging van alle mense oor wat hulle glo nie, maar ʼn spesifieke groep mense wat in ʼn spesifieke tyd en plek woon. In hierdie geval is dit NG Kerklidmate wat aan die begin van die 21ste eeu hoofsaaklik in Suidelike Afrika woon – maar natuurlik ook elders in die wêreld, waar ook al ons lidmate hulleself bevind.

CHRISTELIKE GELOOF

Ons “Christelike Geloof” het ʼn bepaalde oorsprong (geskiedenis) en inhoud (tradisie) wat ʼn mens sou kon terugvoer na die heel oudste Christelike geloofsbelydenisse, soos die Apostoliese Geloofsbelydenis (Apostolicum), die geloofsbelydenis van Nicea en Athanasius. Ons verwys na hierdie belydenisse as die ekumeniese geloofsbelydenisse, wat vroeg na die ontstaan van die Christelike geloof (na die tyd van Jesus) geleidelik tot stand gekom het – sommige selfs nog voor die Bybel as geskrif soos ons dit vandag ken, finale beslag gekry het. Dit is ekumenies omdat alle hoofstroom Christelike tradisies (byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk, die Protestantse Kerke, Grieks-Ortodokse Kerke) op die een of ander manier hulle Christelike oortuiging hierheen terugvoer.

ʼn Mens sou kon sê dat die Christelike geloof in hierdie geskrifte hulle beskouing oor God baie spesifiek aandui as ‘n geloof in ‘n Drie-Enige God. Ons Christelike beskouing oor God is dus onderskeidend en baie spesifiek ‘n geloof in ‘n Drie-Enige God wat sigself as Vader, Seun en Heilige Gees in die geskiedenis bekendstel. Ons word dus daartoe opgeroep om nuwelinge (bekeerlinge tot hierdie geloof) te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Hoewel hierdie Drie-Enige God vir ons onbegryplik is en dit dus moeilik is om ‘n duidelike konsep/begrip van Hom te hê, is dit ons oortuiging dat Hy Homself aan ons openbaar het as God die Vader, die Skepper van alle dinge; as God die Seun, in Jesus van Nasaret as ons Verlosser; en as God die Heilige Gees, wat in ons as individue, maar veral ook gesamentlik in ons as gemeente/kerk woon – die gemeenskap van die gelowiges.

GEREFORMEERDE GELOOF

Ons sou ons beskouing oor God selfs nog meer spesifiek kon beskryf wanneer ons onsself Gereformeerde Christene noem. In die loop van die 16de en 17de eeu het met die Protestantse Beweging (Hervorming) ʼn nuwe groepering van die Christelike Kerk in Europa tot stand gekom. ʼn Deel daarvan het ontwikkel en gegroei in wat uitgeloop het op die aanvaarding van die Drie Formuliere van Enigheid (die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls) by die eerste Gereformeerde sinode in 1618/19 in Dordrecht, Nederland. Teenoor die Rooms-Katolieke Kerk van destyds is met die aanvaarding van hierdie belydenisskrifte klem gelê op die vyf sogenaamde solas, te wete: sola gratia (alleen deur genade), sola fidei (alleen deur geloof), solus Christus (slegs deur Christus), sola scriptura (die Bybel alleen), soli Deo Gloria (aan God alleen die eer). Dit was verstaan as ʼn troos-Evangelie. Ons kan onsself nie red nie. Nie deur ons werke of enige verdienste nie. Alleen God kan dit doen deur ons in Christus Jesus te verlos. Die ellende waaruit ons verlos moet word, was nie eng gesien as slegs persoonlike sonde(s) nie, maar ʼn bevryding uit die ellende (misère) van die lewe self – om dan ʼn dankbare lewe te kan lei tot eer van God. Die diepste troos is dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus.

As ons dus vandag as Gereformeerde Christene verwys na Ons Christelike Geloof, sou ʼn mens in die beskrywing hierbo iets kon verstaan van die identiteit van ons geloof, ons godsdiens. Ons verstaan ook dat, omdat ons ʼn dinamiese geloofsgemeenskap is wat onsself telkens in ʼn volgende tydvak bevind waarin ons weereens uitdaag word tot ʼn volgende relevante verstaan van ons geloof, die omskrywing daarvan nie staties is nie.

Intussen, egter, as ons praat van “Ons Christelike Geloof” is dit hierdie verstaan van God, skepping en mens wat ons na die tafel bring in ons verhouding tot die wetenskap.

 

2)  DIE (MODERNE) WETENSKAP

Dit is eie en uniek aan ons spesie (die mens) dat ons na maniere soek om ons omgewing te beheer – om ons lewenskwaliteit te verbeter, om voortdurend tot ʼn nuwe wete te kom van die lewe en die potensiaal wat die lewe op toenemend meer gebiede bied. Ook uniek aan die mens is die vermoë om te verbeel, om esteties en kreatief te dink. Daarom ontdek die mens deur die eeue nuwe dinge; ontwikkel die mens vindingryke vermoëns om van die omgewing ‘n beter plek te maak om in te lewe.

Dink maar net aan die ingrypende invloed wat die ontdekking van die maak van vuur teweeg gebring het. Veral die beheer daarvan het op die lewe van mense ‘n groot invloed gehad. Nie net kon hulle toe hulle dieet verander nie, maar hulle kon ook snags aktiwiteite beoefen, selfs in spelonke en in grotte, wat voorheen nie moontlik was nie.

As ʼn mens verder dink aan die ontdekking van die wiel: Dit het gepaard gegaan met revolusionêre gevolge van die beweeglikheid van mense en goedere. Die ontwikkelings van wapens en implemente het die mens telkens in ʼn beter posisie geplaas om sigself te handhaaf in ʼn spesifieke bewoonde omgewing. Daar was dus altyd ʼn groei aan inligting en kennis, sodat mens kan sê dat die wetenskap altyd op ʼn  manier deel was van die mens se geskiedenis. Niks het egter die wêreld voorberei vir so ʼn ontploffing van kennis en inligting as die ontwikkeling van die moderne wetenskap nie. Sedert die ontdekkings van Copernicus (‘n Poolse priester) en Galileo (vriend van die Pous van destyds) in die 15–16 eeu, met hulle teorieë van ʼn ronde, wentelende aarde om die son, het die moderne wetenskap sy beslag gekry. Dit het onmiddellik weerstand uit kerklike geledere ontlok omdat dit die wêreldbeeld wat van die kerk op grond van die interpretasie van die Bybel uitgedaag het. Aanvanklik is hierdie bevindinge doeltreffend onderdruk deur die kerklike strukture en Galileo se bevindinge is eers in 1632 bekend gemaak. Dit was vreemd om te hoor dat die aarde nie net rond is nie, maar ook om sy eie as draai. Nou “kom die son nie meer op” nie en “gaan nie meer onder” nie. Boonop is die aarde nie die middelpunt van die heelal nie, maar draai in ʼn wentelbaan om die son. Daar is nie meer ‘n “bo” en “onder” nie. Plekke soos “die hemel” en “die hel” het uitermate problematies geword.

Hierdie ontwikkeling van kennis (om te weet: wetenskap) was nie net tot die astronomie beperk nie. Vyf jaar ná Galileo sou die Franse denker René Descartes sy bekende frase (cogito ergo sum – “Ek dink, daarom ís ek”) die lig laat sien. Dit het die mens op ’n nuwe pad van selfstandigheid, selfwaarde en selfvertroue geplaas. Descartes het gesê dat dit juis die feit is dat ’n mens kan dink wat jou as mens van alle ander spesies onderskei. Vir hom sou die klem voortaan val op die kognitiewe, die logiese verstaan van dinge. Iets is eers waar en eg as dit logies verstaanbaar is. Hierdie siening sou ontwikkel tot die standpunt dat slegs dít wat ’n mens eksperimenteel kan bewys, seker/vaste kennis is en geglo kan word.

In 1687 verskyn Isaac Newton se indrukwekkende werk, Philosophiae Naturalis Principia Mathematica, wat die basis sou vorm vir moderne fisika. Daarin publiseer Newton sy teorie oor hoe die hemelliggame in ruimte en tyd beweeg en hoe universele swaartekrag hierdie hele stelsel aanmekaar én uitmekaar hou. Met hierdie nuutgevonde kennis van die heelal, sterre- en sonnestelsels, van die invloed van swaartekrag, wat meetbaar ondersteun word deur die moderne fisika en meetkunde, is die denkende mens stadigaan bevry van die voor-Aufklärung denke en wêreldbeeld.

Heelwat later, in 1929, sou Edwin Hubbel weer ʼn volgende fase in die verstaan van die heelal inlei met sy teorie van die uitdyende heelal. Volgens hom het dit logies beteken dat die hemelliggame dus vroeër nader aan mekaar moes gewees het; trouens, dat daar ’n tyd (’n oomblik) lank gelede (ongeveer 20 000 miljoen jaar gelede!) was toe alles op presies dieselfde plek en die digtheid van die heelal oneindig was. Maar nie alleen moes die digtheid van die universum oneindig gewees het nie, dit moes absoluut ongelooflik en oneindig klein gewees het. Dit was die “oomblik” van die sogenaamde oerknal (“big bang”), die begin van die heelal.

Intussen het die ontwikkeling in die filosofie ook die standpunte van die kerk al feller uitgedaag. In 1781 formuleer Immanuel Kant sy bekende onderskeiding tussen Geschichte en Historie waarmee hy wou aantoon dat daar twee “lyne” van denkprosesse is. Die een word deur die “praktiese rede” geken (Geschichte) en het te doen met dinge soos morele standpunte, etiese norme (reg en verkeerd), die vraag na wat fatsoenlik is en wat nie – die dinge wat noodsaaklik is vir die funksionering en behoud van ’n gemeenskap. Die ander “lyn van kennis” (Historie) is kenbaar deur die “suiwer rede”. Hier het ons dan volgens Kant te doen met die egte waarheid. Dit is die waarheid wat ’n mens deur eksperimente en rasionele argumentasie as waar en feitlik kan beskou. Dit was vir hom die enigste betroubare kennis.

Hierdie denkkonstruksie van Kant word deur baie beskou as die geboorte van die moderne filosofie en sou in die jare wat volg die filosofiese basis lê vir die konflik tussen rede en geloof, wetenskap en teologie/kerk.

Nuwe kennis in die veld van die biologie en die mediese wetenskap sou verder druk plaas op “Bybelse waarhede”. So publiseer Charles Darwin in 1859 sy werk The Origins of the Species. Met dié evolusieteorie word die letterlike interpretasie van die Bybelse beskrywing van die skepping van die eerste mense as hoogs onwaarskynlik uitgedaag.

Op mediese gebied ontwikkel Louis Pasteur in 1885 die eerste middel teen bakteriële infeksies en met hierdie ontdekking sou die oorsake, asook die behandeling, van siektes op ’n nuwe (verstaanbare en behandelbare/beheerbare) manier gesien word. Later sou Alexander Fleming se ontdekking van penisillien hiermee saam die behandeling van vele siektes moontlik maak. Van toe af was dit duidelik dat die mensdom nie uitgelewer is aan allerhande bose magte of geeste wat hulle siek maak, en wat dan net op ʼn kontra-manier deur hierdie geesteswêreld aangespreek kan word nie. Sedert daardie tyd was daar nou suksesvolle geneesmiddels wat aangewend kan word om lyding en siekte te beheer. Hermann Dressen se ontdekking van aspirien (1893) maak ’n verdere dramatiese bydrae tot die welslae van die mediese wetenskap om pyn te beheer. En sedert Wilhelm Röntgen se ontdekking van X-strale (1895) kan die liggaam se innerlike toestand wetenskaplik (fisiek en empiries) waargeneem word terwyl die persoon nog lewe.

Intussen het Albert Einstein (1905) se relatiwiteitsteorie opslae in die wetenskaplike wêreld gemaak en ’n wetenskaplike revolusie tot gevolg gehad. Sy relatiwiteitsteorie het mense se destydse denke oor verskynsels soos materie en energie asook tyd en ruimte, heeltemal herskryf. Waar tyd en materie voorheen beskou is as onveranderlike, absolute entiteite, het Einstein se teorie dit gestel dat ook tyd en materie slegs gemeet (bepaal) kan word in verhouding tot hulle beweging en in verhouding tot die een wat die meting doen. Met Einstein breek die ontstaan van die atoomeeu aan.

In die laaste deel van die 19de eeu het daar in Europa op die vlak van filosofiese denke talle prominente denkers (Ludwig Feuerbach; Karl Marx; Friedrich Nietzsche) na vore getree wat onomwonde verklaar het dat die mens van die moderne tyd geen ander keuse het as om op rasionele gronde die kerk en die geloof in God te bevraagteken nie. Dit is geen wonder dat die persepsie ontstaan het dat die moderne wetenskap vyandig staan teenoor godsdiens nie.

Ook op die gebied van die psigologie (byvoorbeeld Sigmund Freud en Carl Jung) word daar teen die einde van die 19de eeu ingrypende teorieë ontwikkel wat verklarings aanbied vir bepaalde menslike gedrag. Voorheen is die oorsaak van menslike gedrag nog dikwels toegedig aan die geesteswêreld – as iets wat onbeheers en onverklaarbaar “oor die mens kom”. Sedert Jung word gedragspatrone egter in so ’n mate verstaan (en juis dáárom soms ook gemanipuleer) dat die psigologie binne die geesteswetenskaplike dissiplines al meer gevestig geraak het as ’n geloofwaardige wetenskap om mee rekening te hou.

Nog dissiplines in die moderne wetenskap wat ons denke onherroeplik verander het, was die argeologie en die historiografie. Ook die literêre wetenskap (letterkunde) wat handel oor die lees en verstaan van tekste en die onderskeiding van literêre soorte (genres) laat ons nuut kyk na antieke tekste en hulle vertalings, maar ook hulle interpretasies/verklarings. Die verdere ontwikkeling van hermeneutiek binne die besinning van die wetenskap is prominent hierin.

Op die gebied van mikrobiologie het stamselnavorsing en genetika in die laaste tyd oënskynlik aan die mens nuwe mag en beheer oor biologiese prosesse gebied.

Voeg dan hierby die astronomiese ontwikkelinge in die inligtingstegnologie, wat al hierdie kennis – asook ons verbinding aan mekaar en kommunikasie met mekaar oor die hele wêreld te enige tyd oombliklik maak – en mens besef dat ons in ʼn tyd lewe wat onvergelykbaar is met enige vorige tydvak.

As ons dus hier praat van “die Wetenskap” verwys ons na die moderne wetenskap in al sy subdissiplines wat ons totale menswees vandag ingrypend ander inhoud gee as slegs 200 jaar gelede – wat nog van 2000 en meer jaar gelede, as ons oor die Bybelse tydperk praat.[1]

[1] Wanneer ons vervolgens in hierdie dokument praat van, of verwys na “geloof” en “wetenskap”, moet dit in die konteks van die voorafgaande omskrywing en verduideliking verstaan word.

AflaaiButtonsPDF AflaaiButtonsWord